MISDAAD

DIE WET IS OORTREE

DIT is Woensdagaand en kykNET se Lourensa Eckard is in gesprek met my, die assistent-redakteur van News24, Pieter du Toit, en my oudstudent dr. Mpumelelo Mkhabela. Ons probeer sin maak van die beweerde misdaad wat gepleeg is op Phala Phala, die plaas van pres. Cyril Ramaphosa. 

Ons weet die Valke moet bloot ’n klag teen die president aanhangig maak vir hom om terug te staan. Dit is die reël wat hy en sy kamerade in die ANC se uitvoerende komitee afdwing. Dit sal die einde van sy politieke loopbaan wees, want die saak sal nie afgehandel wees voor Dingaansdag 2022, wanneer die ANC ’n nuwe leier verkies nie.

Volgens my gespreksgenote “weet ons nie genoeg om die president aan te kla nie”. Ek het ook die primitiewe drang om Cyril te beskerm, want wat my betref, is hy inderdaad die “last good man standing” in die ANC. Sonder hom is ons – en dalk ook Suid-Afrika se demokrasie – heel moontlik in ’n verskriklike gemors.

Regs- en ander menings.

Om regsgronde vir politieke opinies te kry is soms ’n verdomde uitdaging. Samesweringsteorieë is aantrekliker as realiteit. Vir die doeleindes van hierdie meningsartikel het ek dus met twee regsgeleerdes gesels. Llewelyn Curlewis is ’n senior dosent in straf- en prosesreg aan die Universiteit van Pretoria en my kollega by die Noordwes-Universiteit, Duane Aslett, ’n senior dosent by die departement forensiese rekenmeesterskap. Kyk gerus na hulle opinies oor my vrae. Om verskillende redes is hulle al twee van mening dat my politieke relaas waarskynlik nié die noodlottige regsimplikasies gaan hê wat ek voorsien nie.

Maar by die direktoraat vir prioriteitsmisdade, oftewel die Valke, is daar wel ondersoekers wat, soos ek, van my twee regsgeleerde kollegas verskil. Wat my bronne betref, haal ek ’n student se reaksie aan toe ek hom daarop wys dat sy bronnelys effe yl vertoon: “You got to trust me, bro.” Ongelukkig wil en sal hulle dit nie op kamera sê nie en dink hulle beslis nie die president is noodwendig skuldig nie, maar vermoed hulle tog dat die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Aktiwiteite (Precca) van 2004 op die saak van toepassing kan wees.

Die Precca-wet (Afdeling 34) plaas ’n verpligting op mense in gesagsposisies om die vermoede van (finansiële) misdade bo die bedrag van R100,000 by die direktoraat vir prioriteitsmisdade aan te meld. Ten spyte van wat baie mense glo, is daar nie ’n algemene, wetlike verpligting by my en jou om ’n misdaad aan te meld nie.

Aanvanklik het ek gedink niemand is nog ooit ingevolge dié wet aangekla nie. Maar, laat weet iemand uit die Valke met ’n ompad, “jy is verkeerd, daar was al ’n vervolging”. Vir eers spaar ek julle die morbiede besonderhede van daardie saak. Terloops, dit is nie die enigste wet wat soos ’n impakspeler op die regbank sit en koud kry nie; mense word ook baie selde ingevolge insolvensiewetgewing vervolg.

Só lui korrupsiewet 

Besluit maar self watter van die volgende aspekte van die Precca-wet moontlik relevant vir die gebeure by Phala Phala kan wees. Vermy dit om gevolgtrekkings te maak; wees net intelligent nuuskierig.

Algemene wetsoortredings ingevolge Afdeling 34 van die Precca-wet:

• Diefstal: Dit behels die onregmatige toe-eiening van roerende liggaamlike eiendom wat aan iemand anders behoort met die doel om die eienaar permanent van die eiendom te ontneem.
• Bedrog: Dit is die onregmatige en opsetlike doen van ’n wanvoorstelling wat werklike benadeling veroorsaak of wat potensieel nadelig vir iemand anders is.
• Afpersing: Dit behels om ’n mate van stoflike of nie-stoflike voordeel uit iemand anders te trek deur daardie persoon doelbewus of onregmatig aan druk te onderwerp wat hom of haar aan die voordeeltrekking laat onderwerp.
• Vervalsing: Dit behels om onregmatig en doelbewus ’n vals dokument te skep wat werklike benadeling veroorsaak of wat potensieel nadelig vir iemand anders is.

’n Wysiging in 2014 aan die 2004-wet lees soos volg: “Soos gewysig deur die Wysigingswet op die Polisiediens, 2012 (Wet 10 van 2012), moet aanmelding ingevolge Afdeling 34(1) van die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Aktiwiteite, 2004 (Wet 12 van 2004) aan die polisie-amptenaar in die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke geskied.”

Dié wet het ten dele ten doel om Suid-Afrika in ’n juridiese regime in te laat wat internasionale misdaad en korrupsie beheer.

Theuns Eloff herinner my daaraan dat die plaas Phala Phala in ’n trust is en dus nié in die naam van die president is nie. Wel, die omskrywing van gesagsposisies in die Precca-wet is wyd geformuleer en sluit Ramaphosa se teenwoordigheid in trusts in.

Die wet is oortree 

Die eerste punt wat Du Toit en Mkhabela by herhaling op kykNET geopper het in ’n poging om my entoesiasme te demp – en wat dikwels in ander media ook voorkom – was: “Ons weet nie hoeveel geld ter sprake is nie.” Dit is snert! Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) weet, want Ramaphosa se ouditeure het dit in sy belastingopgawes geboekstaaf. Indien nie, het die president by implikasie belastingwette oortree. En, al het niemand die bewering gemaak het nie, het hy ons reeds verseker hy het nié soos die RET-faksie die staatskas geplunder nie.

Verder, buiten in gevalle waar diere uitgevoer is wat op die veilings verkoop is, moes BTW op die transaksies tydig en korrek volgens die voorskrifte van die SAID betaal gewees het. Indien nié, is wette en reëls oortree en ek is seker die president se ouditeure verstaan die gevolge daarvan baie goed. Ek aanvaar dus dat dit behoorlik afgehandel is en dat daar ook, soos die wet voorskryf, behoorlik van alle transaksies in buitelandse geldeenhede boek gehou is. Goed, die stelsel weet dus wat die bedrag ter sprake is, want indien nié sou die Valke en die nasionale vervolgingsgesag tog reeds vervolging oorweeg het?

Die probleem is dat die president die misdaad by die presidensiële beskermingseenheid aangemeld het. Dié eenheid val inderdaad onder die polisie, maar het nie die finale rapporteringsjurisdiksie wat die Precca-wet betref nie. Dalk moes Ramaphosa se sekuriteitshoof, Wally Rhoode, die president ingelig het dat die saak na die Valke verwys moet word. Maar omdat hierdie wet spesifiek gerig is op persone in posisies van mag en gesag, kan die president waarskynlik nie onkunde pleit nie. Onkunde is in elk geval nie ’n verweer voor die reg nie.

Die kort en die lank van die saak is dat die president aanspreeklik was vir die aanmelding van die inbraak en diefstal van buitelandse valuta by Phala Phala en hy moes dit by die Valke gedoen het. Die voormalige nasionale hoof van die direktoraat vir die ondersoek van prioriteitsmisdade, Anwa Dramat, het die interpretasie van die wet baie duidelik uitgestippel: “… reporting should be made to the police official in the Directorate for Priority Crime Investigation”.

Die wet is oortree. 

Wat die president in ’n baie vroeë stadium van die misdaad geweet het, skep ’n spesifieke konteks. Die geïmpliseerdes was byna onmiddellik aan die presidensiële beskermingseenheid bekend. Die omvang van die bedrag ter sprake was bekend; daar is geen twyfel dat dit meer as R100 000 was nie. En, die heel belangrikste: Geen klag is teen die (bekende) oortreders aanhangig gemaak nie, al was die polisie daarvan bewus dat ’n misdaad gepleeg is.
Ongelukkig skep dit die indruk dat die hele suur verhaal om duistere redes onder die mat ingesleep moes word. Die konteks hier is belangrik wanneer afleidings gemaak word oor hoekom die president nie die klag, soos wat die wet vereis, na die Valke geneem het nie.

Daar is wel enkele dinge wat Ramaphosa doen wat ek van Jacob Zuma sou verwag, maar nié van hom nie. En ook dié gedrag skep konteks. Hy is duidelik en oënskynlik doelbewus vaag oor die feite van die saak. Hy is deur die nasionale vergadering verkies, nie deur Luthuli-huis nie. Sy keuse om sy saak eerder aan die etiese komitee van die ANC te verduidelik as aan die nasionale wetgewer, is bedenklik. Soos ook die besluit om te midde van die drama nóg ’n veiling van R20 miljoen op Phala Phala te hou.

Maar anders as my gespreksgenote en sommige kollegas dink ek Ramaphosa sal wel opsy staan indien en wanneer die Valke besluit hulle het ’n sterk genoeg saak en die nasionale vervolgingsgesag besluit daar is geen keuse as om hom te vervolg nie.

Een swaeltjie maak g’n somer nie 

Tóg het Du Toit na afloop van die kykNET-gesprek ’n soort nagedagte of naskrif buite Stark Studios oor die parkeerterrein heen vir my geskree: “Miskien moet ons Suid-Afrikaners die demokrasie begin vertrou.”
Sy gevleuelde woorde het heen en weer geëggo vanaf die dubbelverdiepinggebou van kykNET se uitsaaisentrum in Randburg en die hemelhoë buitemure wat ons teen misdadigers se bose intensies moet beskerm. Dit het my kop besig gehou vir die rit van 25 minute terug huis toe deur die stil strate van Johannesburg.

Die implikasie van sy bulderende woorde was dat indien ons die toekoms sonder die “last good man standing” moet aanpak, “so be it”. Die demokrasie behoort groter as een man te wees.

Die politieke konteks is die waarskynlikheid dat die ANC die nasionale vergadering in 2024 kan verloor en ’n koalisie van partye die uitvoerende gesag kan saamstel. Indien Ramaphosa hierdie politieke loopgraaf oorleef, is daar ’n beduidende kans dat die ANC in beheer van ’n koalisie ná 2024 politieke mag behou. Maar as die president van die ANC nou onder die branders van juridiese logika ingetrek word, is die waarskynlikheid beduidend dat die ANC nié genoeg stemme sal kry om deel van so ’n koalisie te vorm nie.

Met al twee scenario’s moet ons hoop en bid ons kan op ons Grondwet vertrou. Dit is wanneer Suid-Afrikaners hulleself ’n kans moet gee, ten spyte van wie en wat ons is wanneer ons is wat ons nie wil wees nie.

Dit is inderdaad so dat baie van ons weet die land kan nie verder met die ANC nie, maar ons vrees die Armageddon van ’n magsvakuum indien die bevrydingsparty uiteindelik uitgestem word. Dan sal John Steenhuisen, Herman Mashaba, Mangosuthu Buthelezi en Julius Malema die politieke mag van Suid-Afrika onder hulle moet verdeel.

Ek weet nie hoekom die broers Grimm se Die Musikante van Bremen so by my draal nie.

KYKNET / NEWS24


Gepubliseer op:

June 28, 2022

Webtuiste ontwerp en onderhou deur Web Ateljee.