INENTINGS IS DOELTREFFEND
Hoekom kry almal skielik griep – en wat kan jy doen?
Op Twitter kla dit steen en been oor die huidige griepseisoen en etlike ander gefrustreerdes laat weet hulle sukkel weke lank om hulle simptome af te skud. ILSE BIGALKE het meer uitgevind oor die stand van sake met die griep- en ander virusse wat tans in Suid-Afrika in omloop is.
24 AUGUSTUS 2022 / GESONDHEID & OMGEWING / 7 MIN OM TE LEES / ARTIKEL 1 VAN 7 VRYEWEEKBLAD Joernalis: Ilse Bigalke
“EK was besig om te oefen vir ’n wedloop en het nog die Maandag ’n goeie afstand maklik kafgedraf. Dinsdag kon ek nie opstaan nie – nie van siek voel nie, maar net van vreeslike moegheid. Vrydag het ek ’n PCR-toets vir Covid-19 laat doen (dit word as 98% akkuraat beskou) en dit was negatief. My dokter het gesê rus en isoleer maar net in geval. Dis nou al vyf weke gelede en ek kan steeds nie deur die werkdag kom nie. Ek kan uiteindelik weer so 2 km stap solank dit plat is, maar die dokter sê dit gaan waarskynlik nog drie weke vat om na ’n vorm van normaal terug te keer. Gelukkig het ek ’n griepinspuiting gehad, anders was dit nog erger.”
Dié boodskap van ’n andersins fiks en gesonde griepslagoffer eggo etlike ander klagtes van siekes oor hulle ervaring van die huidige griepseisoen in Suid-Afrika.
Ook Twitter wemel van opmerkings wat laat blyk dat Covid-19 nie meer noodwendig die hoofbekommernis is nie: “Griep maak my dood”; “Dit voel of ek al die hele maand griep het”; “Daar is die een of ander griep in die rondte: dra asb. julle maskers”; en “Hoekom kry almal skielik griep?”
Die vraag is: Ervaar Suid-Afrika vanjaar ’n erger griepseisoen met dié dat Covid-19 aan die kwyn is? En is mense dalk meer vatbaar vir griep omdat weerstand daarteen afgeneem het in die twee jaar van Covid-19 toe daar baie lae vlakke van griep was?
In ’n verslag oor die 2022-griepseisoen skryf die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) daar is wel vanjaar ’n toename in griep in Suid-Afrika, maar teen lae vlakke. Dít in teenstelling met die situasie in sommige streke in Australië, waar ’n “onrusbarende” toename in Covid-19 én griep dui op ’n “twindemic” – die gesamentlike voorkoms van Covid en griep.
Volgens dié verslag sal die meeste griepsimptome weens die influenza A-virus ná sowat vyf dae die wyk neem, maar kan dit in sekere gevalle langer aanhou en sommige mense kan nog weke lank energieloos en gedreineer voel. Die WGO beveel aan dat inentingsveldtogte opgeskerp word om ernstige siekte en hospitalisasie weens griep te voorkom.
Hieronder stel drie mediese kundiges die virusse wat tans in Suid-Afrika in omloop is, in perspektief.
’n Algemene praktisyn:
Volgens dr. Tilla Müller, ’n gerespekteerde huisarts by ’n besige praktyk in Hermanus, sien hulle tans wel meer gevalle van griep as van Covid-19, maar is daar baie meer gevalle van slegte verkoues en sinusitis.
“Ons ervaring by ons praktyk is dat ons relatief min mense met griep gesien het in vergelyking met pre-Covid-tye. Ons het enkele pasiënte gesien wat vir ’n week of so baie siek was van griep, maar is nie regtig bewus van mense wat langdurig sleg gevoel het nie.
“In ons ervaring was die minderheid van mense teen griep ingeënt. Hulle het definitief Covid-inenting geprioritiseer.”
Sy voeg by dat mense beslis nou makliker sieker raak van verkoues en sinusitis as in die Covid-19-piektye. “Dit lyk of die dra van maskers die verspreiding van hierdie siektes definitief beperk het. Dis mos maar ons ervaring.”
Volgens Müller het baie mense met onderliggende siektes griep- én Covid-19-inentings gekry en is dit dalk die rede vir die min griepgevalle wat hulle vanjaar gesien het. “Maar griepgevalle is tans beslis meer algemeen as Covid-gevalle – ons het net enkele gevalle van Covid gesien.”
’n Patoloog:
Dr. Cobie Cronjé, ’n Pathcare-patoloog, bevestig dat verreweg die meeste van virusinfeksies (ongeveer 60%) tans deur sogenaamde verkouevirusse (die rhino-, adeno- en parainfluenza-virusse) veroorsaak word.
In Julie is die griepvirusse influenza A in 11% en influenza B in 5% van virusinfeksies geïdentifiseer, terwyl Covid-19 in net 7% van gevalle bevestig is.
’n Kenner van aansteeklike siektes:
Dr. Jantjie Taljaard, hoof van die afdeling aansteeklike siektes van die fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch, meen vanjaar se griepseisoen lyk meer soos die pre-Covid-jare en is dus terug na “normaal”.
“Alle lugwegvirusse, insluitende griep- en verkouevirusse, is nou weer baie algemeen. Dit is die geval weens ’n kombinasie van verminderde persoonlike beskermingsmaatreëls soos die dra van maskers, maar natuurlik ook weens die feit dat groot funksies met duisende mense weer toegelaat word.”
Op die vraag of Covid-19-inperkingsmaatreëls blootstelling aan aansteeklike siektes verlaag en derhalwe laer immuniteit veroorsaak het wat die gemeenskap meer kwesbaar vir virusuitbrekings maak, sê Taljaard dit is ’n teorie wat moontlik kan steek hou as dit kom by jong kinders wat nog nie baie in hulle lewe aan griep of inentings daarteen blootgestel was nie. “Ek dink nie dit speel ’n groot rol by volwassenes nie. Bykomstig het baie mense natuurlik die afgelope twee jaar nie hulle gereelde griepinentings ontvang nie.”
Volgens Taljaard is die influenza A-virus altyd die ooheersende tipe griep wat tydens die griepseisoen voorkom. “Vergeleke met influenza B word dit dikwels as ’n erger graad van griep beskryf, maar dit hang baie af van die influenza A-variant wat jy opdoen.
“Hierdie jaar is aanvanklik oorheers deur die H1N1-variant, in die volksmond bekend as varkgriep, wat etlike jare gelede pandemies versprei het en tot baie sterftes gelei het. As jy nog nooit voorheen deur infeksie of inenting aan H1N1 blootgestel was nie, is die kans goed dat jy erg siek kan raak. H1N1 het begin afneem en H3N2 is nou meer dominant.”
Taljaard benadruk dat die beskikbare griepentstof baie doeltreffend is teen hierdie variante, asook teen die twee tipes influenza B wat tans sirkuleer. “Maar soos mense nou weet, is die meeste entstowwe teen lugwegvirussiektes sowat 70% effektief om siekte te voorkom, maar sowat 100% effektief om érge siekte te voorkom.
Hy benadruk dat dit nooit te laat in die seisoen is om ingeënt te word nie. “Ek beveel dit baie sterk aan vir mense met risikofaktore soos ’n hoë ouderdom, chroniese siektes, swangerskap, ensovoorts. Selfs ligter griep gee aanleiding tot afwesigheid van werk en ek beveel ook aan dat werkgewers hulle werkerskorps motiveer om ingeënt te word.”
Volgens Taljaard begin uitbrekings van griep gewoonlik by kinders en spoel oor na volwassenes. “Dit maak natuurlik sin as ons kyk na hoe kinders sosialiseer, asook daagliks sowat ses ure saam by die skool deurbring – dikwels met swak ventilasie in klasse.
“Ander omgewings waar mense in groot getalle saamdrom, kan ook as spilpunte vir uitbrekings dien. Mense ouer as 50, swanger vroue en mense met chroniese siektes soos long-, hart-, nier- en lewersiektes, asook MIV, kanker, suikersiekte en so aan, het veral ’n verhoogde risiko om baie siek te word en in die hospitaal of intensiewesorgeenhede opgeneem te word.”
Nios-aanbevelings
Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) beveel die volgende maatreëls aan om die verspreiding van griep te voorkom:
Vrae wat dikwels opduik:
* Kan mens griep van die griepinenting kry?
Nee. Die entstof is nie geaktiveer nie, daarom kan dit nie griep veroorsaak nie. As jy wel griep kort ná jou inenting kry, beteken dit die griep het reeds begin inkubeer toe jy die inenting gekry het, of jy het dit opgedoen kort nadat jy ingeënt is en voordat jou liggaam tyd gehad het om ’n immuunreaksie te vorm. Dit neem sowat twee weke voordat die inenting beskerming bied.
* Is jaarlikse inentings nodig? Ja, omdat die influenza-virus voortdurend verander.
* Hoekom is dit moeilik om tussen griep- en Covid-19-simptome te onderskei? Die simptome is baie soortgelyk, byvoorbeeld koors, kouekoors, hoofpyn, lyfseer en ’n seer keel. ’n Covid-19-toets is die enigste manier om seker te maak jy het nie Covid nie.
* Kan ek tegelyk griep en Covid-19 kry? Ja, as die virusse wat griep en Covid-19 veroorsaak, tegelyk in ’n gemeenskap sirkuleer. ’n Griepinenting bied die beste beskerming teen griep en die potensieel ernstige komplikasies daarvan en dieselfde geld ’n Covid-inenting.
* Kan ek tegelyk ’n griep- en Covid-19-inenting kry? Ja, jy hoef nie meer 14 dae lank tussen inentings te wag nie.
* Kan ’n Covid-inenting my teen griep beskerm? Nee, want die siektes word deur twee verskillende virusse veroorsaak en die inentings beskerm jou dus teen twee verskillende virusse.
* Wie kan almal ’n griepinenting kry? Enigeen ouer as ses maande, behalwe as jy ’n geskiedenis van ernstige allergie vir die inenting of enige komponent daarvan het.
(Bronne: Nios; die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Inenting en Immunisering by die Sefako Makgatho-Universiteit van Gesondheidswetenskappe.)
♦ VWB ♦
Gepubliseer op:
August 29, 2022




























Webtuiste ontwerp en onderhou deur Web Ateljee.