Maandelikse verslag
Die maand wat was…
Israel het belowe om op Iran se aanval, toe meer as 300 missiele en hommeltuie direk op Israelse gebied afgevuur het, te reageer. Israel het daarna ‘n beperkte militêre aanval op Iran uitgevoer. Dit dra by tot die reeds onstabiele situasie in die Midde-Ooste, waar daar geen tekens is dat Israel die aanvalle op Hamas in Gaza gaan beëindig nie.
Bron: Trading Economics
As gevolg hiervan het Brent ruolie se pryse tot bo $89 per vat verhandel teen die einde van die maand. Dit is verder ondersteun deur ‘n verbeterde vraag na olie en konstante aanbod beperkings . Die beperkte toegang deur die Rooisee as gevolg van aanvalle op vragskepe plaas verdere druk op inflasie as gevolg van die langer afstande wat skepe moet vaar.
Janet Yellen, die VSA se tesourier generaal, het aan Reuters bevestig dat die VSA se BBP groei vir die eerste kwartaal beter mag wees soos data beskikbaar raak. Sy verwag dat inflasievlakke dan sal normaliseer nadat “snaakse” gebeure die ekonomie omgekrap het. Swakker as verwagte ekonomiese data in die VSA het weereens hoop laat opvlam dat die FED rentekoerse hierdie jaar sal sny. Markte hou egter die aanbod vlakke dop as gevolg van geo-politiese gebeure in die Midde-Ooste. Dit wil voorkom of Israel aanvalle op Rafah mag verskerp ten spyte van hulle alliansie vennote wat aanvalle afraai.
Die volgende grafiek toon die Baltiese Droë Indeks, wat die vervoer van droë goedere per skip meet. ‘n Styging in die indeks dui op groter vraag na goedere in die wêreld. Die tendens was sterk opwaarts voor die spanning in die Midde-Ooste uitgebreek het. Die tendens blyk egter steeds opwaarts te wees.
Bron: Trading Economics
Die FED se voorsitter, Jerome Powell, dui steeds aan dat beleidmakers in die VSA steeds sal wag op laer inflasie voordat rentekoers gesny sal word. Die prys van goud het ‘n hoogtepunt van $2340 per ons behaal. Dit onderstreep weereens die onsekerheid as gevolg van die Midde-Ooste. Ten spyte van hierdie druk, voorsien die FED om steeds drie rentekoers verlagings voor die einde van die jaar te implementeer.
Bron: Trading Economics
VK inflasie het teen 3,2% ingekom, af vanaf die 3.4% in Februarie en laer as die verwagte koers. Dit mag goeie nuus wees vir rentekoers in die land. In die Eurozone word vier rentekoers verlagings voor die einde van 2024 verwag. Inflasiedruk mag die eerste verlaging egter uitstel tot September.
Suid-Afrika
Ons is tans in die simpel seisoen met die verkiesing een maand weg. Spanning loop hoog omdat dit algemeen verwag word dat hierdie ‘n waterskeidingsverkiesing gaan wees. Dit blyk asof die ANC vir die eerste keer minder as 50% van die steun gaan kry, terwyl die opkoms van die MK party waarskynlik veral KZN gaan deurmekaar krap. Dit blyk asof geen twee party alleen saam ‘n meerderheidskoalisie sal kan vorm nie. ‘n Drie-party koalisie sal waarskynlik gevorm moet word met ten minste een party wat werklike ander oogmerke het.
In die Wes-Kaap toon tussenverkiesings dat Gayton Mackenzie se PA party as die omkrapper gaan uitkom en dalk die DA onder ‘n 50% meerderheid mag dwing. Dit beteken koalisieregerings sal nie net op nasionale vlak gebeur nie, maar ook in verskeie provinsies soos die Wes-Kaap, KZN, Gauteng, Mpumalanga en Noord-Kaap. ‘n Daadwerklike skuif in administrasie in Suid-Afrika kan dus verwag word. Markte se reaksie op die uitslag sal egter afhang watter bedmaats waar sal regeer.
Sedert die begin van die jaar was die JSE negatief terwyl die S&P 500 redelik goed gevaar het om die rug van die KI (Kunsmatige Intelligensie) aandele in die indeks. Die rand het redelik stabiel vertoon teen ander geldeenhede, maar die sterk dollar, op die rug van geo-politiese onsekerheid, het goed gevaar. Die korreksie op KI aandele sedert middel Februarie, met Nvidia af met 10%, het egter die S&P 500 die laaste ruk sywaarts laat beweeg. Die KI siklus is egter nog in sy kinderskoene, so ons kan verdere ontwikkeling in die sektor verwag in die toekoms.
Bron: Fund Focus
Beleidmakers in SA oorweeg om die sentrale bank se inflasie doelwit van die huidige band tussen 3% en 6% te verlaag. Letsetja Kganyago het gesê dat die skuif die land meer kompeterend sal maak en die bank meer in lyn bring met internasionale eweknieë.
Die FSCA het die publiek gewaarsku teen 14 mense en maatskappye wat finansiële dienste aanbied sonder die nodige lisensies. Byna almal belowe onrealistiese opbrengste. Die FSCA sê die getal bedrieërs wat in Suid-Afrika bedrywig is, is besig om te groei. Beleggers moet altyd versigtig wees wanneer opbrengste van meer as die mark aangebied word, veral as dit as ‘n soort waarborg gegee word.
SARS het gefokus of bedrog korrupsie en maatskappybelasting en het meer ingevorder as beplan. (R1.741 biljoen versus Februarie se verwagting van R1.731 biljoen).
Brokkies uit die mark
Regards
Rocco Carr
Gepubliseer op:
May 3, 2024




























Webtuiste ontwerp en onderhou deur Web Ateljee.