APRIL 2024

MAANDVERSLAG: APRIL 2024

Maandelikse verslag

Die maand wat was…

Die jaarlikse inflasiekoers in die VSA het onverwags effens gestyg na 3.2% vanaf 3.1%.  ‘n Koers van 3.1% was verwag.  Koste van energie het het minder gedaal as verwag.  Prysstygings vir voedsel, behuising, nuwe voertuie en mediese sorg was egter sagter as verwag.  Hierdie styging het onsekerheid rondom die sny van rentekoerse ingebring en baie spekulasie was voor die FED vergadering teenwoordig.  Die koers het egter onveranderd gebly. Die onderstaande tabel gee die historiese inflasiekoerse asook die verwagte dalings nader aan die einde van 2024.

Bron:  Trading Economics

Die FED het die koers vir ‘n vyfde keer stabiel gelaat op ‘n 23-jaar hoogtepunt van 5.25% tot 5.5%.  Dit was in lyn met markverwagtings.  Beleidsmakers beplan egter steeds om drie verlagings in hierdie jaar deur te voer.  Verder word drie verdere verlagings in 2025 en nog drie in 2026 verwag.  Intussen word die VSA se BBP syfers sterker verwag in 2024 (2.1% vs 1.4%).  Die FED voorsitter, Jerome Powell het aangedui dat sterk arbeidsyfers nie die sentrale bank se beplande verlagings sal demp nie.  Die grafiek hier onder dui die verwagte koersverlaging in 2024 aan.

Bron:  Trading Economics

In die verlede was ‘n siklus van dalende rentekoerse, soos ons verwag tot in 2026, goed vir markgroei.  Die ekstra likiditeit vir verbruikers syfer gewoonlik deur die ekonomie.  Vir beleggers wat die laaste paar jaar in multi-bate portefeuljes was sal dit goeie nuus wees waar daar aandeel blootstelling is.

Die Chinese ekonomie het in lyn met markverwagtings gegroei met 1% in die vierde kwartaal van 2023.  Dit was die sesde agtereenvolgende kwartaallikse groei met die swakheid in die eiendomsektor wat sleurend inwerk op ekonomiese groei.  Terselfdertyd lyk die regering huiwerig om ‘n groot stimulus pakket in te bring ten einde stygende regeringskuld te beperk.  Beijing het in Oktober ‘n massiewe CNY1 biljoen effek uitgebring ten einde infrastruktuur besteding aan te moedig.  Die mark het egter nie gedink dit was genoeg nie.  Die People’s Bank of China (PBoC)  het verskeie likiditeits- inspuitings ingebring om die ekonomie te ondersteun, maar ekonome dink nie sit was genoeg nie.

Die Chinese inflasiekoers het negatief gedraai oor die laaste paar kwartale, maar het weer begin optel tot ‘n koers van 0.7%.  Dit mag die eerste teken wees dat hulle ekonomie stadig begin herstel.  Die groot impak van hulle eiendomskrisis sal egter werklike groei belemmer.

Bron:  Trading Economics

Die spanning in die Rooisee en die vrywillige verlenging van OPEC+ se produksie inperkings hou internasionale olievoorraad beperk.  Die VSA se Energie Inligtingsagentskap (EIA) voorspel oliepryse om rondom $88 per vat te verhandel gedurende die tweede kwartaal van 2024.  Dit sal plaaslik ook druk op inflasie toepas, veral as die rand swak bly.  Olie is egter tans redelik bestendig rondom $85 per vat terwyl ‘n moontlike wapenstilstand in Gaza onderhandel word.  Die VN se Veiligheidsraad het, behalwe die VSA wat buite stemming gebly het, ten gunste van ‘n skietstilstand tydens die maand van Ramadan gestem.  ‘n Skietstilstand maag ook die Houthi rebelle oortuig om weer tenkskepe deur die Rooisee toe te laat.

 

‘n Verkiesing in Rusland het Vladimir Putin herkies met 87.3% van die stemme.  Meeste van sy opponente was egter in die gevangenis of geforseer om te onttrek.  Die Russiese opposieleier Alexei Navalny het in die IK-3 strafkamp in Kharp, Rusland, gesterf terwyl hy sy bewussein verloor het tydens ‘n staptog.  Russiese owerhede het dit as ‘n skielike sterftesindroom beskryf.  Die VN het nie die verkiesing as vry en regverdig verklaar nie.

 

Finansiële /sosiale media promoveer gereeld ‘n manie onder beleggers, soos onlangs met die “Magnificent Seven”.  Die volgende grafiek wys egter hoe divers hierdie aandele se opbrengste sedert die begin van die jaar was.  Sommige mag steeds goeie waarde bied, maar ander mag weer oorwaardeer wees.  Daar moet gewaak word teen die neiging om te glo historiese opbrengste weerspieël toekomstige opbrengste.  Diversifisering tussen verskillende bates en bestuurders is steeds belangrik.

 

Bron: Ninety One

Suid-Afrika

Volgens Statistieke Suid-Afrika het die verbruikersprysindeks (VPI) van 5.3% in Januarie gestyg na 5.6% in Februarie.  Kerninflasie het versnel vanaf 4.6% na 5% oor dieselfde periode.  Dit plaas druk op ons Monetêre Beleidskomitee rondom rentekoerse.  Mediese versekering was die groot sondebok in kerninflasie.  Die SARB sal waarskynlik eers na die tweede kwartaal ‘n verlaging in rentekoerse oorweeg. Verskeie internasionale sentralebanke is egter versigtig en hou koerse vir langer hoër  as wat aanvanklik verwag is.

Bron:  Momentum Invest

Verdere druk op inflasie word veroorsaak deur droër weersomstandighede in sekere dele van Suid-Afrika gedurende Februarie en Maart 2024 (El Niño toestande).  Die oesskattings komitee het skattings aangepas en verwag ‘n mielieoes van14.4 miljoen ton,  12.6% laer as voorheen. Dit is egter steeds voldoende om aan plaaslike behoeftes te voldoen.  Ander dele van Suidelike Afrika word egter meer geraak.  Dit plaas ‘n direkte druk op voedselinflasie.

 

Bron:  Graan SA

Asof beurtkrag nie genoeg was nie ervaar Suid-Afrika tans watertekorte.  Vir meer as twee weke moes Suid-Afrikaners in toue staan vir water in Johannesburg.  Dit lyk asof ‘n ineenstorting van die sisteem dreig.  Terwyl warm weer opgaardamme laat verdamp het, is die grootste rede vir die krisis die gebrek aan instandhouding oor jare.  Aan die positiewe kant het Kgosientsho Ramokgopa gesê die land sal hierdie winter ‘n goeie buffer hê teen beurtkrag.  Die somer het geleentheid gebied vir baie instandhouding op opwekkings vermoë en dat die beplande afskakeling van krag sal verminder na die einde van Maart.  Nog goeie nuus is dat die IMF optimisties is oor Suid-Afrika se vooruitsigte, maar tog versigtig is oor ons hoë skuldvlakke.

 

Die Nasionale Vervolgingsgesag het ‘n miernes oopgekrap met die klopjag op die huis van die voorsitter van die parlement, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, aangaande korrupsieklagte.  Die tweede hoëprofiel saak betrek Adjunkpresident Paul Mashatile.  Hulle ondersoek verskeie sake teen hom aangaande twee luukse woonhuise, wat gekoop is deur maatskappye van sy skoonseun, wat hy bewoon.  Dit beteken die twee mees senior lede van die parlement, naas die president, is tans onder die spervuur.

 

Brokkies uit die mark…

  • Die ANC verloor die hofsaak in die verkiesings hof teen die uMkhonto weSizwe party, in ‘n poging om die party te laat deregistreer.
  • 11 ANC parlementslede word formeel aangespreek in die parlement weens ‘n versuim om finansiële rente betyds te verklaar.
  • SARB behou rentekoers op 8,25%.
  • Transnet beplan om die privaatsektor by operasionele funksie te betrek teen die 2de semester van 2024.
  • STATS SA dui aan dat werkloosheid vlakke in Q4 van 2023 styg met ongeveer 1.8%, of ongeveer 200 000 werksgeleenthede.
  • Die prys van mieliemeel kan moontlik met 12% styg weens droogte toestande.
  • Die Nasionale Vergadering keur die onteieningswet goed na veranderinge deur die nasionale raad van provinsies aangebring is.
  • Aspen Pharmacare kondig meer donasies aan vir kritiese sorg produkte in Oekraïne.
  • Die FED hou rente koerse op 5.25%-5.50%.
  • VK inflasie daal tot 3.4% vanaf 4%.
  • Die Switserse nasionale bank verlaag rentekoerse met 0,25% tot 1,5%.
  • Meksiko sny rente koerse met 25 bps na 11%.
  • Die Japanse bank verhoog sy negatiewe rente koers van -0,1 na tussen 0% en 0,1% vir die eerste keer in 17 jaar.
  • Voormalige Steinhoff CEO, Markus Jooste, pleeg selfmoord na hy ‘n boete van R485 miljoen ontvang het.
  • Chinese reguleerders beskuldig Evergrande en sy stigter met $78 miljard na valse verklaring van profyt.
  • Turkye verhoog rentekoerse na 50% vanaf 45%. Dit volg na inflasie steeds onbeheerd is teen ongeveer 70%
  • Die Europese unie parlement keur die wêreld se eerste groot regulatoriese grondreëls goed om die gebruik van AI in tegnologie beleggings te beheer.
  • Cyril Ramaphosa verleng die termyn van die goewerneur van die sentrale bank, Lesetja Kganyago, met nog 5 jaar.
  • Die wêreld se grootste oliemaatskappy, Saudi Aramco, rapporteer profyt van $121 Miljard- meer as Meta, Nvidia, Amazon en Tesla gekombineerd.

Bron:  Glacier Invest

 

Groete

Rocco Carr


Gepubliseer op:

May 3, 2024

Webtuiste ontwerp en onderhou deur Web Ateljee.