Maandverslag Mei 2024

Maandverslag Mei 2024

Die maand wat was.

Die verwagte inflasiekoers en gevolglike rentekoersdalings het markte na positiewe data skerp opwaarts gedruk en die DOW indeks het op ‘n stadium bo die sleutervlak van 40 000 punte gesluit.  Gedurende die derde week in Mei het die S$P 500 en Nasdaq onderskeidelik met 1.5% en 2.1% gestyg voor data weer ‘n demper geplaas het.

VSA inflasie het vir die eerste keer in 2024 begin daal vanaf 3.5% na 3.4%.  Verbruikerspryse het minder in April gestyg as verwag en dit het die kans op ‘n rentekoersverlaging ondersteun.  Vooruitskouings verwag steeds twee verlagings in rentekoerse teen die einde van die jaar, met 0.25% elk, asook nog een vroeg in 2025.

 

Bron:  Trading Economics

Daar word verwag dat VSA rentekoerse op vlakke van 4.25% in 2025 (tans 5.5%) en 3.25% in 2026 sal beweeg.

Die verwagting dat rentekoerse later die jaar sal daal het druk op die dollar begin plaas.  Die rand het egter ook versterk teen meeste geldeenhede, insluitend die pond en euro.  Dit het ook versterk teen meeste opkomende markte se eenhede.  Dit is op die rug van stabiele ekonomiese data, geen beurtkrag vir twee maande nie en positiewe verwagtinge vir die res van die jaar.

Die grafiek hier onder gee die rigting van verskeie geldeenhede oor die afgelope jaar, met die dollar wat teen die einde verswak.  Baie min Suid-Afrikaners sou ‘n jaar gelede voorspel dat die plaaslike eenheid so ‘n kraglopie sou kon doen.  Dit sal egter altyd met volatiliteit meegaan en teen die einde van Mei was die rand weer onder ‘n mate van druk.

‘n Interessante neiging is egter dat wanneer die dollar onder druk kom, versterk die rand (geel pyle).  Die feit dat die rand een van die mees-verhandelde opkomende mark geldeenhede is dra by tot hierdie reaksie.  Die rand word byna gesien as ‘n verstek opsie wanneer opkomende mark geldeenhede benodig word.  Die teendeel is egter ook waar, en lei gereeld tot ‘n oorverkoop van die plaaslike eenheid.

 

Bron:  Fund Focus

Die VK se groei in salarisse is steeds skerp, maar ‘n losser arbeidsmark beteken dat ‘n sny in rentekoerse so vroeg as Junie kan gebeur , met Europa nie ver agter nie.  Duitsland se ekonomie het meer gegroei as verwag en beleggersvertroue is die hoogste in twee jaar.  Dit mag dalk lei tot ‘n positiewe verassing in die Europese sone.

Kleinhandelverkope in China het verlangsaam en huispryse het vinniger gedaal as ooit gedurende die laaste nege jaar.  Die sentrale regering het ‘n historiese reddingspakket uitgerol om die land se beleërde eiendomsektor te red.  Dit behels $140 miljard se effekte om die ekonomie te stimuleer.  Die PBC (People’s bank of China) het ook die deposito verhouding vir huiskopers verlaag tot 15% vir eerste kopers en 25% vir tweede eiendomme.  Hulle hoop dit mag dalk die ekonomiese vonk verskaf vir vraag.

Die oorlog in Gaza word meer intens en druk op Israel neem toe om ‘n skietstilstand te bewerkstellig.  Tog het Israel die hele landelike grensgebied tans beset en is humanitêre hulp tans slegs toeganklik deur die hawe.  Die Midde-Ooste bly dus ‘n kookpot.

Suid-Afrika

Die groot nuus gedurende Mei was die verkiesing van 29 Mei.  Die debat of die ANC die meerderheid gaan behou of in ‘n koalisie geforseer gaan word is rondom alle braaivleis vure bespreek.  Die groot gesprek het egter eerder gegaan oor die aantal provinsies wat moontlik koalisies sou kry na die verkiesing, met ‘n moontlikheid van tot ses provinsies wat dalk nie ‘n volstrekte meerderheid sou behaal nie. Die era van ANC dominansie in Suid-Afrika is waarskynlik verby en die ANC het gedurende hierdie verkiesing vir die eerste keer sedert 1994 nie ‘n meerderheid nie.  Verder is daar geen meerderheidsparty in KZN, Noord-Kaap en Gauteng nie, alhoewel die ANC naby aan dit is in die Noord-Kaap en MK in KZN.

Koalisies in een of ander vorm is onvermydelik en gedurende die volgende twee weke gaan intense gesprekke gevoer word omdat ‘n president vir die land teen dan verkies moet word.  Daar is die oordeelsdag opsie waar die ANC met die EFF of MK die pad stap, en dan is daar die markvriendelike opsie waar die ANC met die hulp van die  Veelpartyhandves.  Laasgenoemde mag dalk die oplossing wees waar party saam moet werk tot voordeel van die land, eerder as vyandelike konkurrente.  Die volgende twee weke sal die basis vir onderhandelings skep wat oor die toekomstige maande uitgetrap sal word.

 

Source: IEC: results.elections.org.za

Nie alleen het President Ramaphosa die NGV wet geteken nie, maar parlement het ook gestem oor die BELA wet wat regte van beheerliggame beperk.  Dit is steeds onseker hoe die regering beplan om die NGV te befonds wat private mediese fondse en hospitale basies uit die stelsel sal dwing.  Die ondertekening van die wet is egter grootliks gesien as ‘n verkiesingsfoefie twee weke voor die verkiesing.  Verskeie politieke partye en drukgroepe het reeds aangedui dat hulle die wet voor die konstitusionele hof gaan daag.

Hierdie wette mag dalk deel raak van koalisiegesprekke.

Daar was reeds twee maande sonder enige beurtkrag en baie mense het bespiegel dat dit ‘n manipulasie vir die verkiesing is.  Daar is beweer dat groot hoeveelhede diesel gebrand is om die ligte aan te hou.  Wat egter wel waar is, is dat politieke druk wel gelei het tot beter instandhouding deur van die oorspronklike vervaardigers.  Die Elektrisiteit Beskikbaarheid Faktor het skerp verbeter sedert die begin van die jaar.

Bron:  My Broadband.co.za

‘n Onafhanklike elektisiteitskenner, Chris Yelland, verduidelik dat die verbetering die gevolg is van ‘n paar faktore:

  • Eskom het daarin geslaag om onbeplande krisisse 5% laer te kry as die eerste kwartaal van 2024.
  • Hulle het vennootskappe met van die oorspronklike vervaardigers gesluit om van die onderhoud en herstelwerk te doen.
  • Eskom het meer onderhoud, teen ‘n beter gehalte gedoen as in die verlede.

Slegs ongeveer een derde van die diesel wat in die eerste vier maande van 2023 verbruik is, is gedurende dieselfde tydperk in 2024 gebruik.  Dit was dus regtig nie net ‘n kwessie van diesel brand om die ligte vir die verkiesing aan te hou nie.  Natuurlike kan onbeplande breuke wel die situasie vorentoe verander, maar met die groot aantal private energie wat reeds krag lewer en in aanbou is, sal beurtkrag oor die volgende twee jaar grootliks beperk word.

Ons groot uitdagings gaan egter wees met die voorsiening van water en sanitasie waar die infrastruktuur tans van Suid-Afrika se grootste bekommernisse is.

Brokkies uit die mark

  • VSA markte prys ‘n laer moontlikheid vir die verlaging van rentekoerse in September in, en verwag nou slegs een verlaging teen die einde van die jaar.
  • VK inflasie daal na 2,3%, die laagste in 3 jaar.
  • Die Japanse Bank laat 10 jaar effektekoerse styg tot oor 1%, die eerste keer in 11 jaar.
  • Taiwan sweer ‘n nuwe president in, Lai Ching-te.
  • SA se jaarlikse inflasie verlaag vir die tweede opeenvolgende maand na 5.2% in April vanaf 5,3% in Maart. Dit is weens rentekoerse wat vasstaan op ‘n 15 jaar hoogtepunt sedert Mei 2023.
  • Die konstitusionele hof bevind dat voormalige president, Jacob Zuma, nie mag staan vir die amp in die Nasionale vergadering nie.
  • Eskom: Die nuutste prestasie toon dat die onbeplande kapasiteitsverlies faktor verlaag het vanaf 30,6% na 25,6% tydens die laaste week in Mei. Dit lei tot die verhoging van die week op week energie beskikbaarheidsfaktor vanaf 58,6% tot 62,1%.
  • $221.2 Miljard- Die sprong in Nvidia se markwaarde na die verdienste verslag uitgekom het. Dit is die tweede grootste sprong in eenheidsprys in geskiedenis en neem die markwaarde na R2,5 biljoen. Die maatskappy is nou groter as die BBP van elke land in die wêreld uitsluitlik 7.
  • 22 Miljoen- Die hoeveelheid aktiewe Capitec kliënte, wat dit gemaklik die grootste kleinhandel bank in SA maak.
  • Die Nasionale Gesondheidsversekering wet word onderteken.
  • SA werkloosheid koers styg vanaf 0,8% tot 32,9% in die eerste drie maande van die jaar.
  • Voorbereiding vir die konstruksie van die nuwe Peugeot bakkie monteeraanleg ter waarde van R3 Miljard, net buite Gqberha, begin.

Free Copper-colored Coin Lot Stock Photo

 


Gepubliseer op:

June 6, 2024

Webtuiste ontwerp en onderhou deur Web Ateljee.