MAANDVERSLAG - NOVEMBER 2023

MAANDVERSLAG – NOVEMBER 2023

MAANDVERSLAG

DEUR ROCCO CARR   –  GLACIER

 

Die maand wat was…

Suid-Afrika het die Wêreldbeker gewen.  Vir die vierde keer.  Vir die tweede keer in ‘n ry.  Met slegs een punt verskil in die uitspeelrondtes.  Met meeste Suid-Afrikaners op die rand van senuwee-ineenstorting.

Die kombinasie van geo-politiese impakte, stygende VSA effektekoerse en bekommernisse in die Chinese eiendomsmark in die vorm van Country Gardens, weeg steeds swaar op sentiment en beide plaaslike en internasionale markte het dus gedaal.  Ekonomiese data uit die VSA weerspreek steeds voorspellings en kom steeds sterker as verwag in.  Dit word veral in hulle kleinhandelverkope en industriële produksie gesien, waar syfers beter is as enige syfers sedert Desember 2018.

Bron:  Ninety One

Die Bank van Engeland het ‘n siklus van 14 agtereenvolgende rentekoers verhogings verbreek met die komitee wat besluit het om koerse op 5.25% te hou.  Dit is veral gedryf deur inflasie wat tot onder die verwagte 6.7% gedaal het.

Die Federale Reserwebank (Fed) het koerse ook stabiel gehou teen 5.25% – 5.5%.  Die Fed het aangedui dat hulle waarskynlik nog een verhoging gaan toepas voor die einde van die jaar.  Internasionale markte het dadelik positief op die nuus reageer. Die eerste verlaging in koerse word tans eers verwag vir die middel van 2024.  Investec Bank verwag steeds dat die VSA ekonomie ‘n resessie sal ervaar, maar dink die proses sal goed bestuur word om die impak te verlig.  Tans is die verbruiker in die VSA baie sterk en dit ondersteun en beter groei verwagtinge word gekoester (2.1% BBP).  Dit laat die dollar sterk bly teenoor ‘n mandjie van eenhede.  Die Suid-Afrikaanse rand het die storm egter beter hanteer as verwag.

Bron:  Fund Focus

China se hooflyn inflasie het gedaal na 0.0%.  Die data beklemtoon die deflasionêre risiko in die ekonomie en dat verdere fiskale ondersteuning benodig sal word om die ekonomie te ondersteun.  Dit impakteer op kommoditeitspryse en eb veral lande soos Suid-Afrika wat daarvan afhanklik is.  China se handelsbalans het gekrimp tot USD 77.71 miljard as beide in-en uitvoere afgeneem het.

Die oorlog tussen Israel en Hamas is ‘n groot bekommernis.  Die verlies aan onskuldige mense duur voort en die humanitêre krisis is enorm.  Die onsekerheid hiervan en die dreigement deur Israel om grondmagte in te stuur in Gaza, verhoog spanning.  So ‘n aksie mag die konflik eskaleer.  Iran het aangedui hulle wil nie in ‘n oorlog betrokke raak nie, maar so ‘n stap sal hulle forseer om betrokke te raak.  Ten tyde skrywe was daar gerugte dat ‘n moontlike vredesmag bestaande uit Israel, VSA, Brittanje en Frankryk Gaza kan beset.  Oliepryse het die laaste rus stadig afgekom op die rug van laer ekonomiese groei, maar as hierdie konflik intensifiseer kan dit oliepryse skerp laat styg en internasionale ekonomieë onder druk plaas.

Bron:  Trading Economics

Alhoewel Europese inflasie ingekom het op 2.9%, die laagste in twee jaar, bestaan die opwaartse druk op inflasie steeds.  Tog is die rigting van die syfers bemoedigend.

 

Bron:  Trading Economics

Die nasionale sekerheid adviseur in die VSA, Jake Sullivan, het genoem dat hy die erns waarmee President Ramaphosa die aantygings oor die Lady – R opgeneem het waardeer.  Die twee lande het weereens hulle behoefte om ekonomies saam te werk onderskryf, veral aangaande hulle verskille oor die Russiese inval in Oekraïne.  Die AGOA ooreenkoms is op vir hernuwing in 2025, maar die AGOA beraad word van 2 tot 4 November in Suid-Afrika gehou.  Indien ons uit die ooreenkoms verwyder word kan dit enorme impak inhou vir ons ekonomie.  Sui-Afrika verskeep voertuie en landbouprodukte na die VSA onder hierdie ooreenkoms.  Verlede jaar het dit $2.7 miljard se handel gelewer.

Die SA begrotingstekort is besig om te vergroot met beide Augustus en September se tekorte groter as verlede jaar.  Dit mag lei tot ‘n fiskale krisis.  Goewerneur Lesetja Kganyago het gereeld beklemtoon dat ons geveg teen inflasie steeds nie verby is nie en dat dit mag lei tot hoër rentekoerse.  Veral voedsel en oliepryse plaas die SARB onder groot druk om weer in November koerse te verhoog.

Bron:  Glacier Invest

Die SA regering neem die FARF gryslys ernstig op en goeie vordering is reeds gemaak ten opsigte van 14 van die 22 gelyste nakomingstekorte.

Eskom het ‘n goeie fase van geen beurtkrag gehad nie, maar met kouer weer wat weer teruggekeer het is fases twee en drie weer die norm.  Dit is egter veel laer as in die eerste helfte van die jaar.

Die Minister van finansies, Enoch Godongwana se dreigemente vir bestedingsinperkings was nie leeg nie en tydens die middeltermyn begroting op 1 November.  Sy boodskap was duidelik:  Inperkings op die begroting gaan gebeur.  Belastinginvordering was R50 miljard  minder as begroot terwyl uitgwes R50 miljard meer was as begroot.  Beide die rand en die effektemark het dadelik positief reageer op die toespraak.

Brokkies uit die mark

  • Meer polisielede vir die Wes-Kaap: Polisie Minister Bheki Cele.
  • Verskeie staatsbeheerde instellings gaan nie betyds hulle state en verslae kan indien nie.
  • Die ANC opponeer belastingverhogings in Februarie, wil die R350 toelaag behou, en opponeer begrotingsinperkings in provinsies.
  • Die Publieke Beleggingskorporasie (PIC) poog om die golf van de-noterings op die JSE te omseil deur meer beleggings in privaat maatskappye.
  • Nuwe voertuigverkope is laer in September.
  • Die vervaardigingsektor in SA het in die derde kwartaal swakker presteer as verwag.
  • Ebrahim Patel, minister van handel, het dringend versoek dat belastingverligting tydelik verleen moet word op ingevoerde hoender. Dis ‘n dryf om die impak van voëlgriep te beperk.
  • Minister Ramakgopa het verduidelik dat daar nie beplan word om enige steenkoop kragstasie af te skakel vir hernubare energie nie.
  • Eskom het aangekondig dat die eerste van drie eenhede wat in duie gestort het by Kusile, weer operasioneel is.
  • ‘n Goedkoop malaria vaksine word deur die WHO aanbeveel om gebruik te word.
  • $43.7 miljard – Argentinië se skuld by die IMF.
  • R75 miljoen is spandeer op sekuriteit by die BRICS beraad.
  • Verliese in die mynbedryf word geraam op R100 miljoen as gevolg van swak spoorvervoer, kommoditeitspryse en beurtkrag.
  • Kaapstad het die eerste privaatopgewekte krag in sy netwerk ingetrek.
  • Ten minste 250 000 hoenders het gevrek as gevolg van voëlgriep en meer as 7 miljoen is geslag.
  • Eskom het die eerste mikro-netwerk in die Noord-Kaap installeer. Meer word beplan.
  • Eenheid 1 van Koeberg sal 3 November in werking gestel word, maar eenheid 2 sal vier dae later afgehaal word vir onderhoud.
  • President Ramaphosa het aangedui dat SA reg is om as mediator in die Israel konflik op te tree.
  • Suid-Afrika het tans 62 miljoen mense volgens die 2022 sensus.
  • SARS het ‘n proses begin om bates van ‘n steenkool sindikaat te konfiskeer.
  • Suid-Afrika se regering het misluk om betyds anti-dwelm wetgewing aan te pas en mag gevolge vir SA sportlui inhou.
  • Die IMF het groeiprojeksies vir Suid-Afrika vanaf 0.6% gelig tot 0.9%. Laer vlakke van beurtkrag word as rede gegee.
  • Transnet moet steeds nog die ooreenkoms met die Filippynse maatskappy, International Container Terminal Services, teken. Die maatskappy was drie maande gelede gekies om die Durbanse hawe op te gradeer.
  • Die IMF het die Eurosone se groeiverwagting verlaag vanaf 0.9% na 0.7%
  • Eskom se direksievoorsitter, Mpho Makwana het bedank.

Bron:  Daily Maverick

 


Gepubliseer op:

November 6, 2023

Webtuiste ontwerp en onderhou deur Web Ateljee.