MAANDVERSLAG – MEI 2022
Die maand wat was…
Die oorlog in Ukraine duur voort en tans lyk dit nie of daar enige vredesooreenkoms bereik kan word nie. Putin was onsuksesvol om Kiev in te neem, van waar hy uit ‘n magsposisie sou kon onderhandel. Hy het egter nou sy fokus verskuif na die ooste en suide van Ukraine waar die Russies-gesinde rebelle in Luhansk en Donetsk streke redelik sterk is. Die hawestad Mariupol is basies onder Russiese beheer en dit wil voorkom of die ooste en suide se inskakeling by Rusland waarskynlik die oogmerk is. Die oorlog het NAVO-lande nader aan mekaar laat beweeg, iets wat Putin waarskynlik nie verwag het nie. Die aandrang dat olie en gas in roebels betaal moet word is ‘n poging om die mag van die dollar te verswak en sanksies te verbreek. Dit het gelei tot die staak van gasvoorsiening aan Bulgarye en Pole, maar die weste sou die betaling in roebels as ‘n verbreking van sanksies sien. Tot op hede hou al die westerse lande by die sanksies. Bulgarye kry 77% van sy gasvoorrad uit Rusland en Pole 40%. Dit plaas dus nou verdere druk op die ander Europese lande om die twee lande te steun. Die oorlog gaan waarskynlik nog ‘n ruk voortduur en die impak op wêreldinflasie kan dalk nog vir ‘n geruime tyd ‘n rol speel.
China
Intussen het China sy “Geen Covid Beleid” steeds streng toegepas en is sommige stede steeds onder totale inperking geplaas. Dit is negatief vir internasionale markte. Hierdie twee groot gebeure het sterk daartoe bygedra dat aandele, en veral buitelandse aandele, skerp gedaal het oor die eerste deel van die jaar. Die grafiek hier onder toon hoe buitelandse aandele sedert die begin van die jaar reeds meer as 15% gedaal het terwyl die plaaslike mark redelik sywaarts beweeg het. Internasionale effekte het ook skerp gedaal op die rug van stygende inflasie en rentekoerse, so enige portefeulje met internasionale blootstelling sou hierdie skerp dalings ervaar het.

Inflasie en rentekoerse
Inflasie is besig om orals skerp te styg en dit plaas ongekende druk op rentekoerse. Federale banke kan stygende inflasie slegs beheer deur rentekoerse op te stoot en, waar van toepassing, kwantitatiewe verruiming in te kort. VSA inflasie is op 8.5% en VK inflasie op 7%, die hoogste in dekades. Die vlakke is waarskynlik naby die boonste draaipunt, maar steeds word verwag dat lande dalk skerper stygings in rentekoerse gaan toepas as wat aanvanklik gedink is. Die Amerikaanse FED gaan waarskynlik in Mei koerse met 0.5% opstoot. Kwantitatiewe verruiming is reeds besig om teruggetrek te word en hierdie faktore leun swaar op internasionale markte. Die grafiek hier onder deur BCA Research toon die faktore wat VSA inflasie dryf en dit is duidelik dat veral energie die laaste jaar die groot sondebok was.

Waarheen nou?
Covid in China en die Ukraiense oorlog gaan steeds druk op markte uitoefen. Die prys van olie, gas en stapelvoedsel sal hoog bly en markte sal geraak word. Tog is daar ontleders wat reken dat daar waarskynlik meer slegte nuus in die mark ingeprys is as wat daar behoort te wees. BCA is van mening dat inflasie in die tweede helfte van die jaar waarskynlik skerp sal afkom, waarskynlik meer as wat tans verwag word. Dit sal die stygende rentekoers siklus verlangsaam en stimilus gee aan aandeelmarkte. ‘n Mens moet dus nou waak teen oorhaastige emosionele besluite in portefeuljesamestelling.
Suid-Afrika
Beurtkrag is weer met ons en die impak kan dadelik gevoel word. Die rand het skerp verswak oor die laaste twee weke van April en Mnr de Ruyter het skerp uitsprake gemaak oor die regering se gesloer met die verandering van regulasies. Intussen het Moody’s hulle uitkyk op Suid-Afrika gunstig aangepas vanaf negatief na stabiel. SARS het meer belasting ingewin as verwag (‘n rekord van R1.5 Miljard vir die eerste kwartaal) en ons betalingsbalans lyk baie gunstig as gevolg van hoë kommoditeitspryse (surplus van R10.6 miljard). Tog is die druk van stygende rentekoerse en inflasie hier ook van toepassing. Hierdie goeie nuus behoort die rand op die medium termyn te ondersteun en die druk van verdere afgraderings weg te hou.
Die vloede in KZN was dramaties en die verlies aan infrastruktuur en lewens was enorm. Dit het druk op ons verspreidingsketting geplaas en die Durbanse hawe kon nie normaal funksioneer nie. Dit het skerp druk op die plaaslike ekonomie en ook op die geldeenheid geplaas.
Op politieke vlak het President Ramaphosa ‘n klein oorwinning behaal met die NUK se verdere uitbreiding van die opsystaan reel. Dit dwing lede met krimineleklagtes teen hulle om nie in enige ANC struktuur te mag deelneem nie. Dit is ‘n aanduiding dat hy waarskynlik al hoe sterker sal word hoe nader die ANC leiersverkiesing aan die einde van die jaar kom.
Brokkies nuus uit die mark
Voorberei deur: Rocco Carr
Glacier
Gepubliseer op:
May 6, 2022




























Webtuiste ontwerp en onderhou deur Web Ateljee.