SCENARIO'S VAN VIER BUFFELS

Wat lê voor vir Suid-Afrika?

WAT Lê VOOR VIR SA:  Scenario’s van vier buffels

Die status quo kan nie hou nie; Suid-Afrika is op pad na ‘n keerpunt. Die mees waarskynlike scenario is dat die wildehonde van kleiner partye die ANC-buffel plattrek, maar dis amper ewe moontlik dat die buffel sal voorstrompel,

Skryf deur:  CLAIRE BISSEKER.

 

As daar een onderwerp is wat Suid-Afrikaners opgewerk kry, is dit ’n voorspelling dat die land besig is om ’n mislukte staat te word. Toekomsscenario’s wat deur ’n onafhanklike dinkskrum ontwikkel is, dui daarop daar is meer as ’n 50%-kans dat dit gaan gebeur – hetsy vinnig of deur ’n stadige afdaling.

Van die vier scenario’s wat deur die Sentrum vir Risiko-ontleding (SRO) van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge ontwikkel is, toon twee positiewe verandering en twee het Suid-Afrika se agteruitgang tot gevolg.

Die scenario wat die SRO se direkteur, John Endres, as die mees waarskynlike ag met ’n kans van 40%, is een van die mees positiewe. Sy algemene boodskap is dus hoopvol – dat Suid-Afrika uiteindelik sy potensiaal sal verwesenlik eerder as om aan te hou om dit te verkwis.

Die SRO aanvaar daar is twee sleutelfaktore wat gaan bepaal hoe Suid-Afrika se toekoms uitspeel. Eerstens gaan die ANC se politieke steun óf onder 50% val óf bo dit bly. Tweedens gaan die staat se hervormingsprogram óf meer doeltreffend en verreikend word óf so louwarm bly dat dit nie die land se groeitrajek kan lig nie.

Die buffel stormloop

In die eerste scenario, genaamd “Die buffel stormloop”, besef die magtige ANC-buffel hy moet sy benadering radikaal verander om die ekonomie te bestuur en toon hy merkwaardige ywer in sy keuse vir groei.

Hy verander van beleidsrigting, wat beteken hy moet sy huidige standpunt oor kwessies soos die arbeidsmark, bemagtiging, onderwys en eiendomsregte verwerp en eerder die vryemarkbeginsels ondersteun wat deur die sakesektor en die meeste privaat ekonome voorgestaan word.

Die party stel diepgaande en dringende ekonomiese hervormings in wat verder gaan as die planne wat nou op die tafel is en deur Endres afgemaak word as blote “gepeuter aan die kante”.

Privaat ondernemings neem die voortou as die groei-enjin. Sakevertroue skiet die hoogte in. Daar is ’n volgehoue toename in mededingendheid, produktiwiteit en vaste belegging. Dit lei tot vinniger ekonomiese groei (moontlik tot 5% teen 2029), skuld wat met die helfte verminder word, die skepping van miljoene werkgeleenthede en ’n styging in lewenstandaarde.

Die ANC word as gevolg daarvan beloon met meer as 50% van die stemme in die volgende twee verkiesings, wat die party toelaat om hom as die dominante politieke mag in Suid-Afrika te laat geld.

Maar die SRO voorspel daar is net ’n 5%-kans dat hierdie scenario gaan werklik word – “en dis as ’n mens vrygewig is”, sê Endres.

Hy is erg skepties, veral omdat so ’n gevolg sal verg dat die ANC fundamentele ideologiese standpunte wat onlosmaakbaar deel is van sy identiteit moet oorboord gooi. Bowendien meen hy die party het ’n moeë organisasie geword wat ly onder ’n gebrek aan rigting, idees en visioenêre leierskap.

Wildehonde trek die buffel plat 

Wat aansienlik meer waarskynlik is, meen Endres, is die tweede scenario: “Wildehonde trek die prooi plat”. Hier word die sieklike ANC-buffel deur ’n trop wildehonde platgetrek.

Endres sê hy het voor die plaaslike verkiesings in 2021 geglo dit sou die gelyke van ’n leeu vat om die ANC uit te daag. Maar hy het sedertdien besef dat die kleiner opposisiepartye die regerende party kan uitdaag en verslaan deur saam te werk.

Die partye, sonder die DA en die EFF, het saam 11% van die stemme in 2016 se plaaslike verkiesings gekry en dit in 2021 tot 22% verdubbel.

Om hierdie partye sover te kry om saam te werk, burgemeesters en komiteevoorsitters te verkies en munisipale begrotings goed te keur, was tot dusver “so moeilik soos om ’n kameel deur die oog van ’n naald te kry”, sê Endres, maar in die metrorade van Johannesburg, Ekurhuleni en Tshwane het dit wel geslaag.

Endres dink die partye sal waarskynlik tot 2029 aanhou stry en baklei oor die oorskietsels. Maar as hulle dienslewering kan verbeter vir hulle kiesers – en as die gemeenskaplike doel om die ANC te verslaan hulle laat fokus – is hulle uiteindelike dominansie moontlik.

Endres twyfel of dié scenario reeds in die verkiesings in 2024 kan afspeel. Dit is meer waarskynlik dat Suid-Afrika vyf jaar van koalisie-chaos ná 2024 gaan beleef. Teen 2029 gaan kiesers moeg wees vir die onsamehangendheid van die trop wildehonde en ’n beter mandaat gee vir koalisies. Dit kan selfs daartoe lei dat ’n heel nuwe rolspeler (of moontlik ActionSA) die koalisie oorheers.

“Die feit dat die ANC onder 50% geval het in die onlangse verkiesings het deur ’n belangrike sielkundige skans gebreek,” sê Endres, “Die wildehonde ruik hierdie swakheid in die ouer dier; die kiesers ook. Dit beteken ons kan meer vloeibaarheid en aansienlik meer koalisiepolitiek sien ná 2024.”

Met inagneming van die mate waarin die ANC aan die verbrokkel is, die ekonomie krag verloor en die land se infrastuktuur en bates agteruitgaan, meen Endres hierdie is die mees waarskynlike van die vier scenario’s. Hy voorspel die waarskynlikheid is 40% dat dit kan realiseer.

“Dis te vroeg om die ANC af te skryf, met inagneming van die waarde van die geskiedenis en lojaliteit wat daaragter sit. Maar ek sien nie ’n interne ANC-reaksie op die situasie nie,” sê Endres.

“As die ANC ’n maatskappy was, sou dit ’n omkeerspesialis van buite ingebring het en radikale veranderings gemaak het – personeellede verminder het, eenhede wat onderpresteer toegemaak het en die onderneming gereoriënteer het. Maar dis presies wat nié nou gebeur nie.”

Die ander twee scenario’s dui daarop dat Suid-Afrika op pad is na ’n mislukte staat. In die eerste van dié scenario’s gebeur dit baie vinnig; in die tweede knars Suid-Afrika langsaam na net nog ’n ontwikkelende, agterlike land.

Die hiënas verslind die buffel

Die derde scenario word genoem “Die hiënas plunder die karkas”. In hierdie toneel kan die ANC nie hervorm nie en kry dit minder as 50% van die stemme in 2024 se algemene verkiesing. Die party vorm dan ’n koalisie met Julius Malema se EFF om sy meerderheid ’n hupstoot te gee en die wildehonde van die deur weg te hou. Maar omdat Malema meer strategiese dryfkrag en duidelikheid het, word sy party die dominante vennoot in die koalisie al is dit kleiner.

Die EFF stel dan die populistiese beleidsrigting in werking wat dit so lank voorstaan, waaronder onteiening van grond sonder vergoeding en die nasionalisering van banke en myne. Dit veroorsaak dat kapitaal en vaardighede op groot skaal vlug; die geldeenheid stort na benede en Suid-Afrika ervaar ’n skuldkrisis. Die land sak vinnig af in armoede, soos nog ’n Venezuela of Zimbabwe.

Omdat lewenstandaarde drasties val, sal ’n koalisie tussen die ANC en EFF nie nog ’n verkiesing regverdig kan wen nie. Dit sal verdedigend optree met beperkings op beweging, die media en vryheid van spraak.

In kort, sê Edres, word Suid-Afrika ’n “outokratiese staat waar die bates van pensioenfondse en privaat eiendom geplunder word om die patronaatskapnetwerke (die hiënas) te voer”.

Die SRO heg ’n lae waarskynlikheid van 20% aan hierdie scenario, en meld dat Suid-Afrika nie ’n inskiklike samelewing het wat maklik sy demokratiese regte sal prysgee nie. Tog is die gevaar dat hierdie verdoemende scenario werklikheid word, nie heeltemal onbeduidend nie.

Die buffel strompel aan

In die finale scenario – “Die buffel strompel voort” is Suid-Afrika op ’n lang afdraande na ’n armoedige toekoms. Hierdie is die scenario van die bestendige staat, waar die status quo voortduur. Die staat hou aan om die retoriek van hervorming te gebruik, maar dit is betekenisloos. Die staat se entropie beteken slaggate vermenigvuldig, die land se elektrisiteit raak op, daar is geen groei of investering nie en werkloosheid hou aan styg.

Dinge raak erger – maar baie geleidelik; Suid-Afrika eindig met ’n gekerm eerder as ’n harde knal.

In ’n skynbare teenstrydigheid, omdat die ANC se steun die sterkste is onder landelike armes en werkloses, meen Endres die party kan juis munt slaan uit hulle groeiende getalle om sy steun in hierdie scenario bo 50% te behou. Hoe dit ook al sy, die wildehonde sal dit nie regkry om saam te werk om die politieke geleenthede van Suid-Afrika se agteruitgang te benut nie.

Die SRO heg ’n waarskynlikheid van 35% aan hierdie scenario. Dít beteken dis net effens minder waarskynlik as die wildehonde se oorwinning (40% waarskynlik).

“’n Mens kan nie die toekoms voorspel nie, maar jy kan na ’n klomp data kyk, en die data wat ek sien, laat my dink ’n keerpunt is op pad,” sê Endres. “Dit sal baie moeilik wees om die bestendige staat in stand te hou omdat baie pilare waarop die status quo steun, nie so sterk lyk nie.

’n Onbekende faktor sou ’n herhaling van die plundery en onrus van Julie verlede jaar wees – iets wat Endres as “amper onvermydelik” sien. Dít is omdat die onderliggende sosiale omstandighede van armoede, werkloosheid en hongerte nie verander het nie.

Wat sake vererger, is dat die staat se gesag ondermyn is deur sy gebrek aan reaksie op die gebeure van verlede Julie. Al wat dit sal kos, is ’n sneller, meen Endres, soos ’n skerp styging in voedselinflasie – iets wat Suid-Afrika ervaar weens die oorlog tussen Rusland en Oekraïne.

Voor die 2021-verkiesings was Endres diep bekommerd oor die vooruitsig vir Suid-Afrika. Maar die feit dat kleiner partye hulle deel van die stemme verdubbel het en drie belangrike metro’s oorgeneem het, het hom meer hoopvol gemaak. Positiewe verandering is nie net moontlik nie, sê hy, dit kan vroeër as verwag kom.

“As iets nie verander nie, sal Suid-Afrika opeindig as ’n mislukte staat. Maar as ons wel politieke verandering kry, sal ons ook ekonomiese hervorming en groei kry,” kom hy tot die slotsom. “Ek dink daar is ’n kans, ondanks al die struikelblokke. Suid-Afrika het soveel potensiaal. Dit het net die regte omstandighede en leierskap nodig om die beste daarvan te maak.”

* Die artikel het oorspronklik in Financial Mail verskyn.

♦ VWB


Gepubliseer op:

June 28, 2022

Webtuiste ontwerp en onderhou deur Web Ateljee.