Wetsartikel oor wie aftreegeld erf ‘ongrondwetlik’
“Baie mense word die reg ontneem om te besluit wie hul aftreegeld erf weens ’n wetsartikel in die Wet op Pensioenfondse, het ’n studie van die Universiteit van Kaapstad (UK) bevind.
Die interpretasie en toepassing van die Wet op Pensioenfondse is nie ’n maklike taak nie.
Die wetsartikel 37(c) doen dit deur die sterftevoordele te verwyder uit die boedel en dus uit testamentêre beheer. Die reg en verantwoordelikheid oor aan wie die sterftevoordele toegeken word, word aan die trustees van aftreefondse oorgedra, volgens Karin Lehmann, ’n dosent van die departement handelsreg aan die UK.
Lehmann beskryf dié wetsartikel in haar doktorale proefskrif as ongrondwetlik.
Luidens ’n verklaring van die UK sê sy die meeste Suid-Afrikaners besit nie baie bates wanneer hulle sterf nie en vir die meeste werkende mense is die geld wat hulle vir aftrede spaar, hul waardevolste “eiendom”.
Volgens haar beteken dit in werklikheid pensioenfondslede het nie die reg om te besluit wie hul waardevolste eiendom gaan ontvang nie.
Lehmann is al jare lank ’n trustee van die UK se aftreefonds. Dit is in hierdie hoedanigheid dat sy die eerste keer van art. 37(c) bewus geword het.
Sy sê die interpretasie en toepassing van die wet is nie ’n maklike taak nie. “Hoekom dit belangrik is, is dat trustees gewoonlik leke is sonder regskennis.”
Volgens haar moet die trustees eers bepaal of ’n aftreefondslid deur enige afhanklikes oorleef word. Die wet het ’n uitgebreide definisie van ’n afhanklike, wat vereis dat trustees die beginsels van die Romeins-Hollandse reg en gewoontereg moet verstaan en toepas.
“Die definisie identifiseer die volgende mense as afhanklikes: eggenote en kinders; enige ander persoon wat jy wetlik onderhou; enige persoon vir wie jy in die toekoms wetlik aanspreeklik sou word as jy nie gesterf het nie; en feitelike afhanklikes,” sê sy.
Hoewel dit duidelik is dat eggenote en kinders afhanklikes is, kan dit verbasend moeilik wees om te bepaal of iemand ’n eggenoot of ’n kind is. Die konstitusionele hof het byvoorbeeld verklaar dat ’n tweede tradisionele huwelik ongeldig is as die eerste gade nie daartoe ingestem het nie.
Trustees kan dus nie net dokumentêre bewyse van ’n huwelik op sigwaarde aanvaar as die geldigheid van die huwelik betwis word nie. Geskille oor vaderskap is ook redelik algemeen, veral wanneer ’n kind buite die eg gebore is.
Lehmann meen die problematiese kategorie is ’n feitelike afhanklike. Dit is ’n persoon wat die lid nie wetlik aanspreeklik is om te onderhou nie, maar wat in werklikheid van die lid afhanklik was vir onderhoud.
Dit sluit in enige persoon wie se opleiding jy help finansier het, of iemand wie se basiese lewenskoste soos kos, verblyf, klere en mediese sorg jy help betaal het.
Mense wat saam woon, word byna onvermydelik as feitelike afhanklikes beskou, selfs al is die langslewende eggenoot in staat om hulself te onderhou.
As ’n lid deur verskeie afhanklikes oorleef word, of ’n kombinasie van afhanklikes en benoemdes, het geen afhanklike of benoemde die reg om voordeel te trek nie. Of en hoeveel hulle uiteindelik ontvang, hang dan af van die diskresie van die trustees, volgens Lehmann.
“Baie lede sou, as hulle uit die dood kon terugkom, ontsteld wees dat hul wense nie nagekom is nie,” meen sy.
Afgesien van die impak wat die wet op lede se testamentêre vryheid het, kan die impak daarvan op eggenote wat binne gemeenskap van goedere getroud is, verwoestend wees.
Dit kan gebeur omdat die persoon nie ’n benoemingsvorm ingevul het nie, of miskien omdat hulle geglo het dat hulle geen afhanklikes het nie en dat hul sterftevoordeel dus aan hul boedel betaal sou word.
Dit kan ook gebeur omdat die trustees hul wense omverwerp, wat trustees gereeld doen, volgens haar.
Volgens haar gebeur dit dikwels wanneer ’n lid deur ’n gade of lewensmaat oorleef word.

Lehmann voer aan die rede waarom lede se wense so gereeld verwerp word, kan toegeskryf word aan die beslissings van die Pensioenfondsberegter, wat in 1998 begin is.
Die beregter het herhaaldelik benadruk lede se benoemingsvorms is nie bindend vir trustees nie en dit dien slegs as ’n riglyn.
Afgesien van die impak wat die wet op lede se testamentêre vryheid het, kan die impak daarvan op eggenote wat binne gemeenskap van goedere getroud is, verwoestend wees.
Dit neem ook die reg weg wat die langslewende gade kragtens die huweliksreg sou gehad het om uit die sterftevoordeel te baat. Dit is omdat art. 37(c) vertolk word as een wat alle ander wette oortref.
Lehmann meen art. 37(c) is ongrondwetlik omdat dit op onredelike en onregverdige wyse die lid en langslewende, wat binne gemeenskap van goedere getroud is, se “eiendomsreg en reg op waardigheid beperk”.
“Daar is ’n aantal onlangse hofsake waarin die howe, insluitende die konstitusionele hof, erken het dat testamentêre vryheid beskerm word deur sowel die konstitusionele reg op eiendom as die reg op waardigheid. Nieteenstaande is die heersende siening in akademiese kringe en die pensioenfondsbedryf dat art. 37(c) grondwetlik is.”
Sy meen art. 37(c) moet dringend hervorm word.”
BRON: Nellie Brand-Jonker / Netwerk 24-Sake
Gepubliseer op:
September 3, 2021




























Webtuiste ontwerp en onderhou deur Web Ateljee.